Elke dag staan ons voor ‘n keuse . Daar kom veral op een
tydperk in die lewe ‘n kruispad waar ons moet stil staan om te kies. Van
daardie keuse hang ewighede af. Sal ons links gaan, of regs? Sal ons die wêreld
dien, of die Here?
Josua moes ook kies en sy besliste woorde was: “Aangaande my en my
huis, ons sal die Here dien.” Eenmaal het Elia ook aan die volk gevra: “Hoe lank
hink julle op twee gedagtes? As die Here
God is, volg Hom en as Baäl dit
is, volg hom na.” Hulle wou nie graag kies nie. Hulle wou nie die Here
heeltemal laat los nie, want hulle het geweet toevlug in nood Hy vir hulle
was en hoe dikwels hy hulle al uitgered
het. Maar hulle wou ook nie die wêreld heeltemal laat los nie. Hulle was
bevrees dat hulle sou skade ly aan plesier, aan rykdom, aan vriende, aan
populariteit.
Maar hy wat aarsel om reg te kies, is verlore. Hy wat hink op twee
gedagtes en besluitloos bly wat sy lewensrigting betref word maklik ‘n prooi
van die vyand. Wanneer is daar ‘n beter en meer gepaste tyd om te kies as aan
die begin van ‘n nuwe jaar? As u bewus is dat u nog altyd in die verkeerde
rigting gegaan het, maak vandag ‘n regsomkeer en gaan in die teenoorgestelde
rigting. Plaas u voetstappe met ‘n
besliste keuse op die smal weg en wandel daarop.
Dit is die enigste weg wat u aan die einde van u lewe sal bring
waar u dan graag wil wees. Dit kan so maklik te laat word om daardie
uitdraai-paadjie na die regte kant te neem. Dit is lewenbelangrik dat elkeen
moet kies en reg kies.
Wat sal jou keuse wees? Wat is dit vandag? As die Here
God is, dien Hom of ……………………………..?
Engela

No comments:
Post a Comment